Eldoraigne streef daarna om gebalanseerde leerders te ontwikkel en verskeie sosiale aktiwiteite word reg deur die jaar aangebied.

Die ATKV stel jaarliks ʻn kompetisie daar vir skole om minderbevoorregte skole of gemeenskappe te help. Hoërskool Eldoraigne is een van twee skole in Pretoria wat daaraan deelneem. Die Welwillendheids-komitee van die VLR onder leiding van Me Marietjie van der Merwe het die hele kompetisie en motivering van leerlinge om ʻn bydrae te maak , hanteer.
Eldoʼs het met hierdie projek die geleentheid aangegryp om hul motto van “Ons gee om en ons wys dit” uit te leef.
Vanaf Januarie 2012 is die skool hard aan die werk om die omstandighede van Mhahlele Primary by Orighstad te verbeter.
Vragte skooltoerusting, skryfbehoeftes, skooltasse, kos, truprojektors, rekenaars is reeds daar afgelewer. Vir die winter het hulle gesorg vir warm skoolklere en komberse. In die kort September het die finale fase van opknapping plaasgevind. Die skool is geverf en plaffonne is ingesit ! Die klasse is van boekrakke en aansteekborde voorsien wat deur Hoërskool Eldoraigne se Gr 8 en 9 registerklasse wat elk ʻn klas aangeneem het, oegerus met al die nodige voorraad soos penne, potlode, uitveêrs, gom ens.
Wat so wonderlik is van die projek is dat dit lekker is om te gee en om te sien met hoeveel trots en selfrespek die leerlinge van Mhahlele Primary reageer. Sonder twyfel is elke Eldo wat gehelp het met die projek se harte aangeraak deur die dankbaarheid van die leerlinge van die skool!

Hoërskool Eldoraigne
E4C 2012 in samewerking met Gateway Youth Foundation Dis die einde van nog ʻn baie lekker jaar by E4C (Eldoraigne 4Christ) hier by Hoërskool Eldoraigne. Die jaar het ons baie meer daarop gefokus om vir ons skool te bid. Daar was gereelde gebedsgeleenthede waarby baie leerlinge betrokke was. Hierdie geleenthede skep ʻn kultuur van gebed by ons skool en word vrywilliglik bygewoon. Daar was ook verskeie kampe hierdie jaar. In Februarie het ons saam met Rudolph du Toit, oud-onderwyser wat ekstra Wetenskap klasse onderrig, wat nou betrokke is by Eldoraigne met kampe, ʻn groep meisies geneem na Heidelberg en in die bos gaan kamp. Hierdie meisies se lewens het so verander op die kamp dat hulle teruggekom het met nuwe hoop om Eldoraigne vir Jesus te wen! Rudolph het ook ʻn kamp in Clarens gehad saam met ʻn groep seuns en dogters met baie vrywilligers om te help.
Hier het ons besef dat God groot is - elkeen het teruggekom met ʻn getuienis van hoe die kamp hulle lewens verander het. Ons het ook opgemerk dat daar ʻn groot verskil was in hulle optrede by die skool na hierdie kampe.
Gateway het in Julie ʻn groep van 300 leerlinge na Kranskop geneem, waaronder leerlinge van Eldoraigne was en ʻn kruis gaan plant en saam met die leerder op die berg vir ons land gebid. Daar was altesaam 16 skole verteenwoordig van Limpopo en Gauteng.
Elke week se D-Groepe (Dissipelskap groepe) het vanjaar gegroei. Hierdie is groepe waar leerlinge toegerus word om op grond van Lukas 10 aktief vir vriende te bid, vriendskappe te bou en hulle behoeftes te besef. Ons is baie trots op almal wat dit bywoon en werklik aktief hierdie groep laat leef Weeklikse byeenkomste waar ons lof-en-aanbidding by die skool het, het so ontwikkel dat die leerlinge self die musiek maak! Die doel van die dae is om die leerlinge ʻn belewenis te gee waar hulle opnuut in die week met God in aanraking kan kom.
Ons wil baie dankie sê aan die Here Jesus Christus se genade om by Hoërskool Eldoraigne Sy Koninkryk uit te brei.
Dankie aan elke leerling vir 2012! Julle is die BESTE - sonder al die Eldoʼs is E4C net ʻn naam.
Baie dankie aan elke ma wat bid by die skool want julle maak uiteindelik baie dinge moontlik!
E4C streef daarna om elke gemeente in ons omgewing te ondersteun deur leerlinge aan te moedig om by ʻn plaslike gemeente aan te sluit en daar te groei. Dus wil ons ook vir elke gemeente wat betrokke is by die skool baie dankie se vir julle getroue ondersteuning deur die jaar.
“ I can do everything through Christ who gives me strength” Fill 4 : 13

ELDO-EINSTEIN : WAR OF THE NERDS

Wie het Kate Middleton se rok gemaak?
Wat is Lady Gaga se regte naam en van?
Hoeveel milligram weeg `n een karaat diamant?
Hoe sou jy gevaar het?
Eldo Einstein is `n jaarlikse vasvra kompetisie waar die deelnemers gepeper word met algemene kennis vrae – vrae wat die breinselle behoorlik laat kook! – om die slimstes van die slimmes te bepaal.
Onderwysers was daar, die “geeks” en selfs die rugby “jocks” het kom kyk hoe hulle vaar.
Die jaar was geen uitsondering – dit was anders …
Om 5:30 was die vierkant al vol vreemde gedrogte. Elkeen gepantser met `n unieke uitrusting. Daar was die Space Monkeys, wat pepsi-bottels op hulle rûe gehad het, die Π -rits, Π-lots, die Departement het ook `n draai kom maak net om almal te herinner aan stemdag op 18 Mei. Die beoordelaars het dit moeilik gehad om die wenners van die beste gees, tema en kreet te kies.
Die aand skop af met `n paar ligte vragies net om almal aan die gang te kry. Met die toename in rondtes het die moeilikheidsgraad van die vrae gestyg en ook die hoeveelheid steune en kreune. Na elke rondte is die top spanne gelees wat deurgaan. Almal hou duimvas en die spanning loop hoog. Elke nou en dan het ʻn kreet deur die saal weergalm. Aan kreatiwiteit was daar nie ʻn tekort nie. Daar was groot pryse op die spel. Na baie swoeg en sweet, dink en berekeninge kon net een span as die Einsteins van die aand wegstap. Die Emo Einsteins het geseëvier. Kort op hulle hakke was West Side en drie Latte en `n Lady het 3e geëindig.
Juffrou Spangenberg (onnie met die meeste gees) het haarself so ingeleef dat sy plat op die grond geëindig het na haar stoel meegegee het :) Juffrou het egter soos dit ʻn “lady” betaam net opgestaan en weer haar span aangemoedig!
Die span met die beste gees was Newtonʼs Housewives, met die krullers in die hare, die tema is gewen deur die Damduikers en Ek is… het die mense laat skater met hul kreet.
Die gees in die saal was iets om te beleef. Dankie aan elkeen wat die aand suksesvol gemaak het dit was regtig ʻn aand om te onthou!

 Hoërskool Eldoraigne
Wat gebeur as jy 300 energieke Eldo's, 12 flambojante dirigente, Eldo-Cherries en 4 drilsersante in 'n mengbak saamgooi? 'n Wenspan vol kleur en pret wat die tonge los en aan die gons het.
Sedert 2004 het die Eldo-sanggroep monde tydens die Jakaranda byeenkoms laat gons, en vanjaar doen hulle daardie reputasie steeds gestand (die keer met meer woema en gees as ooit tevore).
Die wenresep:
Neem vier geesdriftige onnies uit Eldoland se puik personeelkorps en plaas hulle op die rugbyveld. Gee hulle name: Marié Joubert, Annemarie Snyman, Corné van Wyk en Simoné Lewis.
Soek energieke leerlinge uit verskillende grade en plaas hulle op die pawiljoen.
Neem 12 flambojante, kreatiewe dirigente en rangskik hulle voor die groep.
Voeg die geur by - rangskik hulle in rye en allokeer 'n sitplek aan elkeen. Verduidelik in detail hoe die oop- en toemaak van die baadjies werk saam met die spoedige aanleer van al die eldo-keurspelle.
Laat hulle prut vir ongeveer 40 ure tot amper gaar. Voeg 'n paar gevegte en harde woorde (julle lyk soos hardlywige kanaries in papaja-tyd) by en die eindproduk laat die poppe dans en die tonge gons.
Vrydag 22 Februarie... is om die om die draai.
OEFENTYE:
Maandae - Vrydae 6:50-7:50
"Eldo's, ek laaik jou soos jy is - vat my maak my joune!"
Tradisioneel op die tweede Woensdag in Mei, vind die Liefdadigheidskonsert plaas, wat die talentvolle leerlinge van Hoërskool Eldoraigne aanbied vir die bejaardes van ons omgewing.
Die doel van hierdie geleentheid, is om ons dankbaarheid te toon vir al die seën wat deel is van die Kultuuraktiwiteite in die skool, bemarking en veral om aan ons oupas en oumas erkenning te gee vir hulle aandeel in die samelewing.
Die koor, ons beste soliste, dansers en dramaleerlinge het die program met entoesiasme gevul en die sowat 140 bejaardes het hoë waardering gehad vir die kinders se aandeel in die liefdadigheidsoggend.
Almal het heelhartig deelgeneem aan die samesang, wat bestaan het uit ou bekende liedjies, soos bv. SAL ONS OU KENNISSE OOIT VERGEET… Na die konsert is almal op verversings getrakteer en na ʻn besliste versoek om jaarliks hierdie geleentheid te herhaal, is almal gemoedelik uitmekaar.
Talle van hierdie bejaardes, was die res van die jaar getroue bemarkers en ondersteuners van al die Kultuuraktiwiteite wat die skool aangebied het.
 Hoërskool Eldoraigne
MOLDAG: "Minute-to-Win-it"
Die Akademiese VLR komitee het vir ʻn laaste bietjie opwinding die jaar gesorg toe hulle vir MOLDAG, weer die populêre “ Minute - to- Win- it” kompetisie in die vierkant gespeel het! Almal was in rep en roer en die 24 spanne het baie moeite gedoen om hulself uniek uit te beeld.
Die hele aksie is in groot geesdrif uitgevoer en almal het omtrent naels gekou toe Josi en Janneke in die finale rondte teen die gr 10ʼs Monique en Sue deelgeneem het!
Die SUPER WOMAN girls( dis nou Monique &Sue) het op die ou einde as wenners uit die stryd getree en die Heksies met hul besems oor hul koppe huis toe gestuur! Hulle is darem beloon met die prys vir die beste gees en Casper en Matthew in gr 11 het weggestap met die prys vir die beste uitbeelding met hulle uitrustings !
Dankie Akademiese-komitee – julle maak pouses interessant ...

Hoërskool Eldoraigne
Pi-dag is altyd op 14 Maart (14 van 3e maand) en daarom begin die syfers wat die leerlinge moes leer daarmee. Õ = 3,14159265...
Die uitslae is as volg:
Eerste Rico Brink (Gr 9) 129 syfers
Tweede Jaco Deetlefs (Gr 9) 125 syfers
Troosprys: Henk Roets (Gr 8) 250 syfers

Hoërskool Eldoraigne
1. Visie: Om dissipelskap in Hoërskool Eldoraigne te bevorder deur kleingroepe in elke area van die skool op te rig waar leerlinge vrywilliglik betrokke raak en dan projekte loods om sodoende ʻn daadwerklike Christenskap uit te leef. 2. Wat gebeur by die VCSV in die skool?
Discovery groepe:
Discovery groepe is dissipelskapgroepe waar leerlinge weekliks op Dinsdae gedurende tweede pouse die Bybel as riglyn gebruik en saam met mekaar hulself en die Vader ontdek. Ons leer die leerlinge om die Woord te gehoorsaam en dit te gaan doen!
Woensdae VCSV:
Vrywillige byeenkoms weekliks gedurende tweede pouse waar ons saam aanbid met musiek en ʻn boodskap uit die Bybel. Hier raak ons ook aan die betrokke waarde van die skool, die 10 sterre van Eldoraigne.
Wild@heart:
Senior seuns wie almal saam ʻn proses deurwerk om hul doel in die lewe ontdek wat deel vorm van die hele proses in die skool. Jaarliks word verskillende seuns ge-identifiseer om hierdie reis saam te beleef. Kampe word ook met hierdie seuns gedoen om hierdie proses meer effektief te laat loop.
Rugby seuns:
Elke Vrydag oggend kom rugby seuns vroegdag bymekaar om ook saam te ontdek hoe hulle invloed verder as net die rugbyveld strek! Ons fokus op manwees en moedig die seuns aan om vir mekaar soos broers te wees! Dogters:
Hoërskool Eldoraigne het dames onderwyseresse wat ʻn hart het vir die dogters en in samewerking met van die aksiespan lede werk ons ook apart met die dogters om hulle die waarheid oor hul kosbaarheid te laat sien en hul vrouwees te ontdek!
3. Ouers:
Woensdae oggende kom maʼs bymekaar om saam vir die skool te bid! Hoe meer maʼs, hoe beter! Dit staan bekend as ʻmaʼs wat omgeeʼ en hulle invloed strek verder as net bid, die maʼs stel intens belang in die lewens van die leerders en onderwysers en is beskikbaar om by te staan met enige reelings of hulp vir geleenthede wat vir die leerders gereel mag word.
4. Onderwysers:
Ons onderwysers is vir ons kosbaar!
Daarom het ons ook ʻn plek geskep waar onderwysers weekliks op Woensdae oggende van 06:30 to 07:10 saam kan gesels en die hart van die Vader vir hul lewens ook ontdek en so bietjie ontsnap van die warboel.
5. Netwerking:
Hoe kry ons al die dinge reg?
Eerstens, genade en tweedens ʻn wonderlike aksiespan van jong leiers wat ʻn hart deel vir leerders en onderwysers wat weekliks by die aktiwiteite betrokke is!
Van hierdie mense sluit in:
Wynand van Niekerk
Manie Groenewald
Rudolph du Toit
Etienne Lottering
Greta Serfontein
Marinus Hayes
Aubrey Swanepoel
Raymond Boswell
Ruhan Ferreira
Daar is nog baie ander saam met ons betrokke ook!
Ons wil dankie se aan elkeen van die mense en die leierskap wie hulle verteenwoordig vir die tyd en enregie wat weekliks vir Eldoraigne opgeoffer word! Julle is Sterre!
6. Wat word nog beplan?
Waarderingsprojekte met die leerders vir:
1. Onderwysers
2. Ouers
3. Gemeenskap
4. Uitreike in vakansies
5. VCSV Kampe